Van Kampkombuis tot Klein Besigheid: Red Gold Concentrate
Red Gold Concentrate het in ’n kampkombuis ontstaan, nie in ’n fabriek nie. Dit is ontwikkel tydens ons drie jaar van voltyds kamp, waar beperkte pakplek, eenvoudige toerusting en daaglikse kosmaak ’n meerdoelige geur-oplossing gevra het.
Kamp vir 3 jaar voltyds in ‘n Sprite Scout en jy leer hoe om ruimte te benut, besittings af te skaal en meerdoelige produkte te gebruik.
Maar, lankstaan beteken nie jy moet in ‘n groef verval nie, veral nie as jy in staat is om vir ure net te sit en oor die see uit te staar en te dink nie.
Die rol van die branders en die kalmte van die see het baie idees in my kop los gemaak, maar die beste idee was uiteindelik nie myne nie maar Vroutjie s’n.
Red Gold Concentrate, ‘n regte, egte konsentraat waarvan jy 250ml kan gebruik en 20 verskillende kos-idees kan maak, was die resultaat van tyd op hande en my vrou se “speel” met produkte, kruie en geure. Die resultaat is ‘n eiesoortige produk wat wat tyd en plek spaar.
Dit het eintlik eers tot sy reg gekom in die laaste paar maande van ons 3-jaar kamp toe Vroutjie een dag, terwyl ons rustig in die Oos-Kaap rondry, sonder waarskuwing uitroep: “Ek weet wat ek gaan doen!”. Haar “weet wat ek gaan doen” is eers regtig getoets en verfyn toe ons terug is by die huis.
Dae en nagte van navorsing en toets, en baie tamaties later, was Red Gold Concentrate op die eerste rakke in Centurion waar ons woon.
Amptelik is Red Gold Concentrate ‘n 50% gekonsentreerde, geroosterde tamatiebasis wat ontwerp is vir ryk geur, veelsydige gebruik en uitstekende rak-aantreklikheid. Dit werk ewe goed in souse, pizza basisse, smeermiddels, bredies en drankies. As ‘n gereed-vir-gebruik beginbasis bespaar dit tyd, verminder dit vermorsing en help dit sjefs en kokke om vinnig diep, ryk geure te bou.
Maar vir ons is dit die bevestiging dat lankstaan nie leeglê beteken nie, en dat ‘n mens wat al verby jou “verkoopdatum” is, nie noodwendig verby jou verkoopdatum is net omdat “die mense” so sê nie.
Op ‘n persoonlike vlak is ek baie trots op Ouma dat sy na amper 50jr se getroude lewe, steeds die lus en energie het om haar idee uit te voer!
Uit ‘n kamp oogpunt wys dit dat ondernemerskap altyd uiting kan vind as ‘n mens net nie toelaat dat jou brein lui raak nie. Ons het heelwat kampeerders teêgekom, en van verneem, wat hulself “besig hou” met allerhande planne.
By Yellow Sands staan ‘n permanente kamper wat kamptoerusting maak en verkoop. Ook by Yellow Sands kamp ‘n outo-elektrisiën en sy vrou byna elke naweek daar. Sy is ‘n haarkapper en dan doen sy sommer van die kamp-vroue se hare. Hy help dan sommer met die voertuie se elektriese nukke, of help RV’s “jumpstart” wat nie wil vat nie. (Ek dink net hy moet nie soveel verniet doen nie!)
Yellow Sands het van-tyd-tot-tyd ‘n kamp mark waar van die lankstaners baie oulike handewerk verkoop.


Ook in die Oos-Kaap het ons gehoor van twee kampers wat gesien het besighede sukkel om ordentlike brandhout te kry. Hulle het ‘n verskaffer opgespoor en het toe begin om aan besighede en kampplekke hout te verskaf. Laaste wat ek verneem het, het die twee besluit om langer te kamp waar hulle is omdat die besigheid ‘n handige inkomste verskaf het.
By Harkerville het ons kampers ontmoet wat hulle huis aan die Weskus verhuur en al langs die Suid-Kaapse kus kamp terwyl hulle dompel-verf of dip-dying klerasie maak en op markte verkoop.
By Silwerstrand buite Robertson het ‘n lankstaner langs ons my beïndruk met sy hout skryf-penne wat hy op ‘n mini draaibank uit Suid-Afrikaanse hout draai en wat baie gewild is onder buitelanders as geskenke.
Dan was daar ook die voltydse kampers wat ons by Harkerville raak geloop het. Die man spekuleer aanlyn met sukses en sy vrou skep doelgemaakte CV’s wat suksesvol deur kandidaat-keuringstelsels (ATS) beoordeel word. Sy help mense landswyd aanlyn werk soek.
Dan is daar ons baie goeie kampvriende van ons waar die man ‘n baie toegewyde seehengelaar is (dis nie werk nie!), en sy vrou werk aanlyn vir ‘n maatskappy wat mense bystaan wat kwalifiseer vir burgerskap in Brittanje.
By Rocky Bay was daar ‘n voltydse kampeerder wat haar boekhouer besigheid afgeskaal het en ‘n klein hoeveelheid kliënte behou het wat haar elke dag van 09:00 – 16:00 besig hou.
Die kampeerders waarmee ek simpatie het is die vakmanne wat nie hulle gereedskap kan saamry of by kampterreine gebruik nie, en kamp-vroue wat nie vir wins kan bak nie weens die elekrisiteit gebruiksreëls.
Wat almal wel kan doen al kamp hulle naweke, vakansies, lankstaan of permanent, is om idees te formuleer. Sommige idees kan jy nie dadelik uitvoer nie, soos Red Gold Concentrate, ander is nie moontlik om te doen as jy kamp nie, ander is weer uitvoerbaar as jy ‘n vervaardiger kan kry om jou idee-produk te maak terwyl jy dit aanlyn verkoop.
Ek het minder mense ontmoet wat iets geskep het om te doen as wat ek mense ontmoet het wat idees het, maar net nie sover kan kom om dit uit te voer nie.
Ons sien ook uit na die dag wat eienaars van kampterreine by plaaslike markte stalletjies bespreek waar hul kampeerders van hul produkte kan verkoop. Ek hoop ook dat kampterreine wat kragmeters het, in staat sal wees om in die toekoms baksters toe te laat om produkte vir verkoop te bak as hulle hul regverdige deel kragverbruik betaal.
Wat Red Gold Concentrate betref is ek tevrede en beïndruk met wat Vroutjie sover bereik het, en ek hoop haar produk word baie suksesvol.

En terwyl sy Red Gold maak geniet ek dit nogal om op ‘n Woensdag-oggend 04:00 saam met haar na Tshwane se varsprodukte-mark te ry om by ZZ2 se markagent tamaties te koop.
Maar die harde werk doen sy steeds. Vlam-skroei die tamaties, verpak dit in vlekvryestaal bakke saam met die uie en knoffel om vir 24 – 48 uur te staan om die geure goed uit te ruil, reduseer dit vir 4 ure van ‘n tamatie mengsel na ten minste 50% konsentraat, toets die Ph-gehalte totdat dit presies reg is, bottel dit, en ‘n dag later plak sy self elke etiket op.
Iemand het gevra: “En as dit nie werk nie?”
Wel, dan probeer ons iets anders! ‘n Mens kan tog nie net niks doen nie.