Ons het begin lankstaan kamp in Januarie 2023 toe ons, ons huis verhuur en die pad gevat het vir ‘n jaar se lankstaan.
Die jaar het 3 jaar geword.
In hierdie tyd het ons heen-en-weer langs die Oos, Suid en Weskus van Suid-Afrika gekamp. Ons is twee keer deur die ou Transkei (ons is nou op pad vir die derde keer), het winter aan die Weskus deurgebring, winter aan die KZN kus en Desember in die Karoo.
Ons het hoofsaaklik by die see gekamp omdat ons voorheen in die Noorde gebly het en daardie gebied reeds redelik goed ken.
Na 3 jaar het die hoof-vrou besluit sy wil weer by haar huis wees en dit is waar ons vanaf Januarie 2026 weer sal vasstaan.
Terwyl ek hierdie skryf is ons op pad na ons laaste 6 maande as lankstaan kampers. Toe ek bestek opneem van wat ons in hierdie 3 jaar ervaar het, het ek besef hoe min ons ervaar het, hoe min ons geleer het, en hoe baie ons nog nie weet nie.
Ons (Nico en Marthina) sal nog kamp, en daar is mense wat oortuig is dat ons weer sal lankstaan, maar ek dink ons sal in die toekoms maar maand-kampe en midweek kampe doen.